Jou A-tot-Z-omgewingswoordeboek
Hierdie woordeboek is ’n A-tot-Z lys van belangrike omgewingswoorde om jou te help om meer oor ons omgewing te lees en te verstaan.
Druk op die letter hier onder, of gaan af om die betekenis van ’n woord vas te stel. As ’n alternatief, kyk na die woordeboek in PDF formaat [160KB].
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
A
Aanwyser (“indicator”)
‘n Merker of maatstaf wat sukses/vordering met die bereik van doelwitte bepaal. Aanwysers word gewoonlik in ‘n stand van die omgewing-verslag gebruik om omgewingsgehalte en -veranderinge te meet.
Aardverwarming (“global warming”)
Die merkbare styging in die gemiddelde temperatuur van die aarde se atmosfeer en oseane oor die afgelope dekades, en die geraamde voortsetting daarvan. ‘n Toename in wêreldtemperature kan op sy beurt tot ander veranderinge aanleiding gee, insluitend ‘n styging in die seevlak, en veranderinge in reënhoeveelhede en -patrone. Hierdie veranderinge kan die gereeldheid en felheid van uiterste weervoorvalle soos vloede, droogtes, hittegolwe, orkane en tornado’s beïnvloed.
Afloop(water) (“runoff”)
Water wat nie in die grond wegsyfer nie, maar oor die oppervlak en in natuurlike oppervlakwater vloei.
Afval (“waste”)
Enige oortollige neweproduk, vrystelling, oorblyfsel of oorskot van enige proses of aktiwiteit.
Afvalbestuur (“waste management”)
‘n Beheerstelsel om op ‘n doeltreffende en omgewingsvriendelike manier met behulp van duidelike beleid en omgewingstandaarde afval te beperk, te versamel en mee weg te doen, bv. die vermindering van plastieksakke.
Afvalwater (“wastewater”)
Oorskietwater nadat dit bv. in huise, tuine en fabrieke gebruik is.
Agenda 21
Die internasionale beleid waarop daar by die Rio-konferensie in 1992 ooreengekom is. Onder agenda 21 het lande besluit om volhoubare maatskaplike, ekonomiese en omgewingsontwikkeling na te streef.
Alternatiewe energiebronne (“alternative energy sources”)
Staan ook as “hernubare energiebronne” bekend aangesien die mens nooit hierdie bronne, soos die son en wind, kan uitput nie. In teenstelling met energie uit fossielbrandstowwe soos steenkool en ru-olie (wat oorontgin kan word), stel alternatiewe energiebronne nie hoë konsentrasies skadelike gasse in die atmosfeer vry nie.
Antropogenies (“anthropogenic”)
Wat uit mense se teenwoordigheid of aktiwiteite ontstaan.
Armoede (“poverty”)
Meer as ‘n gebrek aan inkomste – eerder ‘n toedrag van sake waar mense nie eens ‘n minimum lewenstandaard kan handhaaf nie.
Atmosfeer (“atmosphere”)
Die lug om die aarde wat as ‘n reeks lae met verskillende kenmerke beskryf word. Die atmosfeer bestaan hoofsaaklik uit stikstof en suurstof, met ’n klein bietjie koolstofdioksied, waterdamp en ander gasse, en dien as ’n buffer tussen die aarde en die son.
B
Bebossing (“afforestation”)
Die handeling of proses om ‘n bos te vestig, veral op grond wat nie voorheen bebos was nie; ook “bosaanplanting” genoem.
Beboude omgewing (“built environment”)
Die fisiese, mensgemaakte omgewing, byvoorbeeld geboue, huise, paaie, brûe en hawens. Temas wat deel uitmaak van die beboude omgewing is verstedeliking, infrastruktuur, vervoer, energie en afval.
Bedreigde spesies (“endangered species”)
Diere, plante, voëls, visse of ander lewende organismes wat weens mensgemaakte of natuurlike veranderinge in die omgewing gevaar loop om uit te sterf.
Beheer (“governance”)
Die stelsel waarmee en manier waarop ‘n gebied of kwessie bestuur word, bv. omgewingsbeheer.
Belanghebbendes (“stakeholders”)
Mense en organisasies wat by ‘n gebied of kwessie betrokke is of daarin belang stel, bv. inwoners, raadslede, sakelui, vakbonde.
Beleid (“policy”)
‘n Raamwerk of grondslag vir optrede ten einde bepaalde probleme te oorkom en gestelde doelwitte te bereik. ‘n Beleid help ‘n mens om besluite te neem en ‘n organisasie of struktuur te bestuur, en word op mense se waardes en doelstellings gegrond.
>> Sien geïntegreerde metropolitaanse omgewingsbeleid.
Bes moontlike omgewingsopsie (“best practicable environmental option”)
Die opsie wat die meeste voordele of resultate lewer, met die minste skade aan die hele omgewing, en teen ‘n aanvaarbare kort- én langtermynkoste vir die samelewing.
Besmetting (“contamination”)
Die proses waardeur iets besoedel of onsuiwer gemaak word.
Besoedeling (“pollution”)
Skade aan of besmetting van die natuurlike omgewing as gevolg van menslike aktiwiteite, veral deur huishoudelike en chemiese afval, bv. middels, geraas, stof en reuke.
Bestekverslag (“scoping report”)
Die eerste stadium van ‘n omgewingsimpakstudie (OIS).
Bevolkingsgroei (“population growth”)
‘n Toename in die aantal mense, bv. wanneer die geboortesyfer die sterftesyfer oorskry, of wanneer meer mense hulle in ‘n stad vestig as wat die stad verlaat; ook “bevolkingsaanwas” genoem.
Bewaring (“conservation”)
Die wyse bewaring, aanwending en besparing van hulpbronne, veral die biodiversiteit eie aan ‘n gebied.
Bewerkbare grond (“arable land”)
Grond wat vrugbaar genoeg is om op aan te plant en te boer.
Bioafbreekbaar (“biodegradable”)
‘n Stof se vermoë om fisies en/of chemies deur mikro-organismes afgebreek te word.
Biodiversiteit (“biodiversity”)
Die ryke verskeidenheid plante en diere wat in hulle eie omgewing voorkom. Fynbos is ‘n goeie voorbeeld van die Kaap se ryke biodiversiteit.
Biofisiese omgewing (“biophysical environment”)
Die deel van die omgewing wat nie uit menslike aktiwiteite (bv. biologiese, fisiese en chemiese voorwerpe en prosesse) ontstaan het of daarvan afhanklik is nie.
Bioom (“biome”)
‘n Groot eenheid van lewe wat uit plante- en dieregemeenskappe met soortgelyke vorme en omgewingstoestande bestaan, maar nie die nie-lewende (abiotiese) gedeelte van die omgewing insluit nie.
Bioremediëring (“bioremediation”)
Die gebruik van lewende organismes (bv. bakterieë) om oliestortings op te ruim of ander besoedelende stowwe uit grond, water en afvalwater te onttrek.
Biosfeer (“biosphere”)
Die deel van die aardstelsel waarin lewe kan voortbestaan.
Biota
Die lewende organismes (plante en diere) in ’n gebied.
Bruin mis (“brown haze”)
Lugbesoedeling weens verkeer en nywerhede. Rookmis vorm deel hiervan en ontstaan wanneer waterdamp met besoedelingsdeeltjies in die lug meng. Die bruin misbank is dikwels in die winter oor Kaapstad te bespeur.
Bruinterrein (“brownfields”)
Verlate of onderbenutte nywerheids- en kommersiële persele waar uitbreiding of herontwikkeling deur werklike of vermoedelike omgewingsbesoedeling bemoeilik word; kan ook “herontwikkelingsgrond” genoem word.
C
Chloorfluoorkoolstowwe/CFK’s (“chlorofluorocarbons/CFCs”)
‘n Chemikaliefamilie wat algemeen as koelmiddels in lugversorgers en yskaste, oplosmiddels en dryfgas in spuitkannetjies gebruik word. CFK’s sweef na die boonste laag van die atmosfeer waar die chloor daarin die osoon vernietig.
D
Data
Inligting, statistieke en rekords met behulp waarvan ‘n volhoubaarheidsverslag bygewerk word.
Degradasie (“degradation”)
Die verslegting van die gehalte van die omgewing deur menslike aktiwiteite, byvoorbeeld rivierdegradasie, gronddegradasie.
Dra(ag)krag (“carrying capacity”)
Die maksimum aantal gebruikers wat deur ‘n hulpbron onderhou kan word, bv. die maksimum aantal beeste wat op een plaas kan wei.
Druk-stand-reaksie-model (“pressure-state-response model”)
‘n Model vir omgewingsverslagdoening wat die druk op die omgewing, die stand van die omgewing, en die huidige en toekomstige reaksies op hierdie omgewingsuitdagings dek.
E
Ekologie (“ecology”)
Die wetenskaplike studie van die verhouding tussen lewende dinge (diere, plante en mense) en hulle omgewing.
Ekonomiese ontwikkeling (“economic development”)
Die ontwikkeling van ‘n streek of land se ekonomie, bv. die uitbreiding van ekonomiese aktiwiteite, die verbetering van werksvaardighede en die skep van werksgeleenthede.
Ekonomiese-ontwikkelingstrategie (“economic development strategy”)
‘n Benadering wat plaaslike-regeringswerksaamhede rig om wêreldwye mededingendheid te bevorder en armoede te verlig deur ‘n reeks ekonomiese aktiwiteite regdeur die Stad Kaapstad te koördineer en te integreer.
Ekosisteem (“ecosystem”)
‘n Stelsel wat op die verhoudinge en wisselwerking tussen plante, diere en die nie-lewende omgewing berus.
Ekotoerisme (“ecotourism”)
Toerismebeplanning en -bestuur wat ook die natuurlike omgewing in aanmerking neem. Ekotoerisme behels ook die bevordering van ’n volhoubare natuurlike omgewing deur die ekonomiese voordele verbonde aan toeristeaktiwiteite, bv. kampering, stap, perdry en wildkyk.
Endemiese spesies (“endemic species”)
Plante en diere wat nêrens anders ter wêreld voorkom nie.
Enkelbronbesoedeling (“point-source pollution”)
Besoedeling met ‘n enkele oorsprong/uit slegs een bron.
Esteties (“aesthetic”)
Met ‘n sin vir skoonheid, of gekenmerk deur ‘n liefde vir dit wat mooi is.
Eutrofikasie (“eutrophication”)
Die proses waardeur voedingstowwe (bv. fosfate of nitrate) in ‘n watermassa opbou.
Evaluasie (“assessment”)
‘n Studie waarin iets deeglik nagegaan word.
>> Sien strategiese omgewingsevaluasie.
F
Fauna
Dierelewe in ‘n bepaalde gebied.
Fekaal (“faecal”)
Met verwysing na liggaamsafval, bv. fekale kolivormbakterieë wat in water voorkom; ook soms in samestellings deur die woord “ontlasting(s)-“ vervang.
Fekale kolivormbakterieë (“faecal coliforms”)
‘n Subgroep kolivormbakterieë wat weens hulle aanwas by hoë temperature ‘n meer akkurate aanduiding van fekale besoedeling gee.
Flora
Plantelewe in ‘n bepaalde gebied.
Formele sektor (“formal sector”)
Deel van die ekonomie waar mense in die regering, nywerhede en maatskappye se diens staan.
Fossielbrandstowwe (“fossil fuels”)
Nie-herbruikbare en bedorwe organiese materiaal wat verbrand of verbruik kan word ten einde energie te lewer, bv. olie, aardgas en steenkool.
Fynbos
Immergroen plantegroei wat laag op die grond groei en slegs in die Suidwes-Kaap voorkom. Fynbos is bekend vir sy ryke biodiversiteit.
G
Geïntegreer(d) (“integrated”)
Wat alle nuttige inligting en faktore in ‘n gesamentlike of verenigde geheel vermeng of saamvoeg.
>> Sien geïntegreerde omgewingsbestuur.
Geïntegreerde metropolitaanse omgewingsbeleid/IMEP (“integrated metropolitan environmental policy/IMEP”)
Die omgewingsbeleid wat vir die Stad Kaapstad ontwikkel is. Die IMEP is ‘n goeie voorbeeld van geïntegreerde omgewingsbestuur.
Geïntegreerde omgewingsbestuur/GOB (“integrated environmental management/ IEM”)
‘n Manier om die omgewing te bestuur deur omgewingsfaktore in alle stadia van ontwikkeling in te sluit. Dit behels oorweging van fisiese, maatskaplike, kulturele en ekonomiese faktore asook oorlegpleging met alle mense wat deur die voorgestelde ontwikkelings geraak word.
Geïntegreerde ontwikkelingsplan/GOP (“integrated development plan/IDP”)
‘n Plan vir die ontwikkeling van die Stad Kaapstad wat alle belangrike elemente en faktore in ag neem en saamvoeg, bv. grondgebruikbeplanning, ekonomiese ontwikkeling, openbare belegging en prestasiemonitering.
Geïntegreerde toeloopbestuur/GTB (“integrated catchment management/ICM”)
Die beleid waarvolgens toeloopgebiede bestuur word en wat alle belangrike inligting, faktore en belanghebbendes betrek wat die omgewing in die toeloopgebied kan beïnvloed.
Geleentheidsvergroening (“event greening”)
Om geleenthede aan te bied of verwante dienste te lewer sodat dit ‘n minimale uitwerking op die omgewing het en die grootste voordeel vir die mense inhou.
Gemeenskapsgebaseerde organisasie/GGO (“community-based organisation/CBO”)
Groepe binne gemeenskappe wat op plaaslike vlak by ondersteunings- en ontwikkelingswerk betrokke is.
Gemengde grondgebruik (“mixed land use”)
‘n Kombinasie van grondgebruike, soos ‘n samevoeging van kommersiële, nywerheids-, kleinhandel-, vermaak- en institusionele gebruike.
Geomorfologie (“geomorphology”)
Die studie van die kenmerke, oorsprong en ontwikkeling van grondvorme.
Gevaarlike afval (“hazardous waste”)
Afval wat ‘n bedreiging vir die welstand van mense, plante en diere inhou, bv. gevaarlike afval van fabrieke, wasmiddels, plaagdoders en voertuie.
Giftige chemikalie (“toxic chemical”)
‘n Middel wat ernstige siekte, vergiftiging, geboorteafwykings of die dood kan veroorsaak wanneer lewende organismes dit insluk, inasem of opneem.
Giftige wolk (“toxic cloud”)
‘n Massa gasse, dampe, walms of aërosols van giftige materiaal wat in die lug hang.
Globalisering (“globalisation”)
Die proses van inskakeling by die wêreldekonomie; ook soms “wêreldkrimping” genoem.
Groenterrein (“greenfields”)
Gedeeltes onontwikkelde grond wat hetsy tans vir landbou aangewend of aan die natuur oorgelaat word; ook in sommige ontwikkelingskontekste “braakland” (residensiële ontwikkelings), “nuwe/vars ontwikkelingsgrond” of eenvoudig “onontwikkelde grond” genoem.
Gronddegradasie (“land degradation”)
Afname in grond of plantegroei se vermoë om lewe te onderhou weens skade aan die grond/plantegroei se fisiese, chemiese of biologiese kenmerke wat uiteindelik tot ‘n nie-volhoubare ekologiese sisteem aanleiding gee.
Grond-erosie (“soil erosion”)
Grondverlies deur wegspoeling, wegslyting en instorting.
Grondgebruik (“land use”)
Die gebruik van grond vir menslike aktiwiteite, bv. residensiële, kommersiële en nywerheidsgebruik.
Grondwater (“groundwater”)
Ondergrondse water wat gewoonlik putte, boorgate en fonteine van water voorsien.
Gryswater (“grey water”)
Enige water wat reeds gebruik is en sonder behandeling weer gebruik kan word.
H
Habitat
Die fisiese omgewing wat as tuiste, d.w.s. leef-, voedings- én voortplantingsplek vir ‘n bepaalde gebied se plante en diere dien.
Hernubare hulpbronne (“renewable resources”)
Grondstowwe wat deur middel van natuurlike prosesse aangevul kan word.
Herwinning (“recycling”)
Insameling, skoonmaak en hergebruik van afvalmateriaal.
Hidrologie (“hydrology”)
Die eienskappe, verspreiding en sirkulasie van water op aarde; ook “waterleer” genoem.
Hulpbronbestuur (“resource management”)
Die beplande en verantwoordelike beheer en bedryf van hulpbronne.
Hulpbronne (“resources”)
Dele van ons natuurlike omgewing wat gebruik en beskerm word, bv. grond, woude, water, natuurlewe en minerale (soos bousand).
I
Informele nedersetting (“informal settlement”)
Huise (gewoonlik van ‘n tydelike aard) wat op grond opgerig word wat meestal nog nie amptelik vir residensiële gebruik afgekondig of gediens is nie.
Informele sektor (“informal sector”)
Deel van die ekonomie waar mense in eie diens is en deur aktiwiteite soos straathandel ‘n bestaan maak.
Infrastruktuur (“infrastructure”)
Die netwerk fasiliteite en dienste wat vir ekonomiese aktiwiteite benodig word, bv. paaie, elektrisiteit, water en rioolbehandeling.
Inheemse spesies (“indigenous species”)
Plante en diere wat natuurlik in ‘n gebied voorkom.
K
Kernafval (“nuclear waste”)
Oorskietstowwe en -materiaal as neweproduk van kernkragopwekking wat die omgewing kan besoedel.
Kernkrag (“nuclear power”)
Die energie wat deur kernkragstasies opgewek word en tot kernafval aanleiding gee.
Klimaatsverandering (“climate change”)
‘n Verandering wat regstreeks of nie-regstreeks aan menslike aktiwiteit toegeskryf word en wat die samestelling van die wêreldatmosfeer wysig. Opgehoopte mensgemaakte gasse in die atmosfeer keer die son se hitte vas, en veroorsaak wêreldwyd veranderinge in weerpatrone. Die gevolge sluit vreemde reënvalpatrone, ‘n styging in die seevlak, moontlike droogtes, habitatverlies en erge hitte in.
Kolivormbakterieë (“coliform bacteria”)
Bakterieë wat gewoonlik in diereuitskeidings en riool voorkom en as ‘n aanduiding van watergehalte dien. Die bakterieë self is nie patogenies nie (veroorsaak nie siektes nie), maar dui op die moontlike teenwoordigheid van patogene.
Kommersiële afval (“commercial waste”)
Alle vaste afval uit sake-ondernemings. Hierdie kategorie sluit in, maar is nie beperk nie tot vaste afval wat in winkels, markte, kantoorgeboue, restaurante, inkopiesentrums en teaters gegenereer word.
Kompos (“compost”)
Ontbinde organiese materiaal wat ontstaan wanneer bakterieë/erdwurms in die grond vullis en bioafbreekbare rommel tot organiese misstof afbreek.
Kweekhuiseffek (“greenhouse effect”)
Die geleidelike styging in die aardtemperatuur omdat die son se strale deur lugbesoedeling op die aardoppervlak vasgekeer word.
Kweekhuisgas (“greenhouse gas”)
‘n Gaskomponent van die atmosfeer wat tot die kweekhuiseffek bydra.
L
Landbou-afval (“agricultural waste”)
Pluimvee- en veemis, asook vloeibare of vaste afvalmateriaal wat deur die produksie en bemarking van pluimvee, vee, pelsdiere en hulle produkte gegenereer word. Dit sluit ook graan-, groente- en vrugte-oesafval in.
Landskap (“landscape”)
Die patrone en struktuur van ‘n bepaalde geografiese gebied of plek, insluitend die natuurlike, beboude en sosio-ekonomiese omgewings daarin.
Lugbesoedelingsvoorvalle (“air pollution events”)
Dae wanneer lugbesoedelingsvlakke die aanbevole riglyne oorskry.
M
Marien(e) (“marine”)
Van die see, of te make met die see.
Mariene beskermde gebied/MBG (“marine protected area/MPA”)
‘n Gebied waar sommige soorte vis of plante beskerm word.
Marikultuur (“mariculture”)
Boerdery met seeplante en -diere in hulle natuurlike omgewing in die see of op seeplase aan land.
Mediaankonsentrasie (“median concentration”)
Gemiddelde getal watergehaltemetings soos stikstof en fosfaat in ‘n bepaalde hoeveelheid gemete water.
Meerjarig (“perennial”)
Wat regdeur die jaar aanhou groei, met verwysing na plante.
>> Sien standhoudend.
Metropolitaans (“metropolitan”)
Van of te make met ‘n groot dorp of stad, bv. metropolitaanse regering.
Metropolitaanse oopruimtestelsel/MORS (“metropolitan open space system/MOSS”)
‘n Beplande netwerk om oop ruimtes in stede en dorpe te verseker ten einde bewaring, landbou, ontspanningsaktiwiteite en kulturele uitlewing moontlik te maak.
Metropolitaanse ruimtelike-ontwikkelingsraamwerk/MROR (“metropolitan spatial development framework/MSDF”)
Die oorkoepelende plan om die toegelate soorte fisiese ontwikkelings en die ligging daarvan in die Stad Kaapstad te rig en te bepaal, bv. behuisings-, vervoer- en maatskaplike-diensontwikkelings.
Misdaadsyfer (“crime rate”)
Die aantal misdade wat in ‘n jaar per elke 100 000 mense gepleeg word; staan ook as “kriminaliteit” bekend.
Moeraslande (“wetlands”)
‘n Stuk grond met water meestal op of naby die oppervlak wat ‘n deurdrenkte habitat vorm, bv. vleie en moerasse.
N
Nasionale park (“national park”)
Grond wat vir die beskerming van plante, diere en die natuurskoon, en vir die mens se genieting opsygesit is. In die Stad Kaapstad sluit die Tafelberg-nasionale park Tafelberg, ander berge asook moeraslande tot by Kaappunt in.
Natuurerfenisterrein (“natural heritage site”)
‘n Terrein van buitengewone universele waarde uit ‘n estetiese, wetenskaplike of bewaringsoogpunt, met natuurlike kenmerke soos fisiese en biologiese formasies of groepe daarvan. Dit sluit ook noukeurig ontwerpte gebiede in wat as habitat vir bedreigde diere- of plantspesies dien.
Natuurlike hulpbron (“natural resource”)
Enige hulpbron wat deur die biofisiese omgewing voorsien word.
Natuurlike omgewing (“natural environment”)
Ons fisiese milieu, insluitend plante en diere, ongeskonde deur menslike aktiwiteite. Temas wat deel uitmaak van die natuurlike omgewing is luggehalte, binnewaters, kuswaters en biodiversiteit.
Netwerk (“network”)
‘n Stelsel dinge wat almal onderling verbind en afhanklik is, bv. paaie en telefoonlyne.
Nie-hernubare hulpbronne (“non-renewable resources”)
Grondstowwe wat vir ‘n beperkte tyd beskikbaar is en opgebruik kan word. Voorbeelde sluit steenkool en olie in.
Nie-regeringsorganisasies/NRO’s (“non-governmental organisations/NGOs”)
Groepe en liggame buite die regering wat by advies, ondersteuning, finansiering en ontwikkelingswerk betrokke is.
O
Oewer- (“riparian”)
Wat op stroom- of rivierwalle bly of geleë is, bv. oewerdier of oewerplant.
Omgewing (“environment”)
Dit wat ons omring, insluitend lewende én nie-lewende elemente, bv. grond, plante, diere, lug, water en mense. Die omgewing verwys ook na ons beboude, maatskaplike en ekonomiese milieu, en ons uitwerking daarop. Word gereeld met behulp van ’n verbindings-“s” in samestellings gebruik, bv. omgewingsbeleid.
Omgewingsbeheer (“environmental governance”)
Die regering se huidige en toekomstige plig om die omgewing deur dinge soos monitering, beheer, bestuur en wetuitvaardiging te beskerm.
Omgewingsbeleid (“environmental policy”)
Riglyne en reëls vir die bestuur en beskerming van die omgewing.
>> Sien geïntegreerde metropolitaanse omgewingsbeleid.
Omgewingsbestuur (“environmental management”)
Om seker te maak dat omgewingskwessies by alle stadia van ontwikkeling ingesluit word sodat ontwikkeling volhoubaar kan wees.
Omgewingsbestuurstelsel/OBS’e (“environmental management system/EMS”)
Die strukture, planne en prosesse wat ontwikkel word om die omgewing in ‘n gebied te bestuur.
Omgewingsbillikheid (“environmental equity”)
Gelyke beskerming van mense, groepe en gemeenskappe teen omgewingsgevare.
Omgewingsimpakstudie/OIS (“environmental impact assessment/EIA”)
‘n Wetenskaplike studie van die waarskynlike uitwerking van voorgestelde aktiwiteite of ontwikkeling op die omgewing. OIS’e help liggame soos plaaslike owerhede besluit of hulle voorstelle, byvoorbeeld vir die ontwikkeling van ‘n stuk grond vir behuising, moet aanvaar/afkeur.
Omgewingsontwikkeling (“environmental development”)
Stappe ter ontwikkeling en verbetering van die omgewing deur die toepassing van verantwoordelike omgewingsbeleid.
Omgewingsoudit (“environmental audit”)
‘n Uitvoerige evaluasie om ‘n organisasie se wetsnakoming, omgewingsbeleid en omgewingsbestuurstelsel (OBS) te beoordeel. Die uitslag van die oudit help die organisasie om hulle omgewingsbeleid en -bestuurstelsel te verbeter.
Omgewingsvolhoubaarheid (“environmental sustainability”)
Die verantwoordelike instandhouding van die omgewing om dit vir toekomstige geslagte gesond te hou.
Onkruiddoder (“herbicide”)
‘n Plaagdoder wat ontwerp is om plante, onkruid of grasse te beheer of dood te maak. Bykans 70% van alle plaagdoders wat deur boere gebruik word is onkruiddoders. Hierdie chemikalieë het ‘n verreikende uitwerking op nie-geteikende spesies (d.w.s. dié waarop die plaagdoder nie gemik is nie).
Ontbossing (“deforestation”)
Die vernietiging van woude en boswêrelde wat tot klimaatsveranderinge, dieresterftes en grond-erosie aanleiding gee.
Ontsouting (“desalination”)
Die gebruik van enige van ‘n reeks prosesse om oormatige sout en ander minerale uit water te onttrek ten einde vars water vir dieregebruik of besproeiing te verkry. Indien bykans alle sout onttrek word, kan dit vir menslike gebruik ingespan word, en word tafelsout soms in die proses as neweproduk vervaardig.
Ontwikkeling (“development”)
Die proses waardeur iets verander word ten einde vooruitgang, verbetering of groei teweeg te bring.
>> Sien ekonomiese ontwikkeling en omgewingsontwikkeling.
Ooraanwending (“over-utilisation”)
Oormatige verbruik van hulpbronne wat toekomstige hulpbronbeskikbaarheid asook die omgewing raak.
Opeenhoping (“congestion”)
Die daaglikse opbou van swaar verkeer wat paaie blokkeer.
Oppervlakwater (“surface water”)
Water bo grondoppervlak in mere, damme, riviere en panne.
Opvul(lings)terrein (“landfill/landfill site”)
Plekke soos gruisgate en myne wat vir die wegdoening van huishoudelike, nywerheids- en gevaarlike afval gebruik word.
Osoon (“ozone”)
‘n Bykans kleurlose soort suurstofgas met ‘n flou chlooragtige reuk.
Osoonlaag (“ozone layer”)
Die laag osoon wat ongeveer 15 km bo die aarde begin, en op ‘n hoogte van ongeveer 50 km bykans verdwyn. Hierdie laag beskerm die aarde teen skadelike ultravioletsonstraling.
Oudit (“audit”)
‘n Manier om die suksesvolle werking van iets te meet.
>> Sien omgewingsoudit.
P
Plaagdoder (“pesticide”)
‘n Middel om enige spesie wat as ‘n plaag beskou word, insluitend onkruid, insekte, knaagdiere, swamme, bakterieë of ander organismes, af te weer, dood te maak of te beheer. Die plaagdoderfamilie sluit onkruiddoders, insekdoders, knaagdierdoders, swamdoders en kiemdoders in.
Plaaslike agenda 21 (“Local Agenda 21”)
Plaaslike-regeringsprojekte vir volhoubare ontwikkeling onder agenda 21, die handves wat in 1992 uit die VN-konferensie oor omgewingsake en ontwikkeling in Rio, Brasilië voortgevloei het.
Plantegroei (“vegetation”)
Die verskillende plantsoorte in ’n gebied.
Proses (“process”)
Ontwikkeling geskied gewoonlik deur ‘n proses – ‘n aantal beplande stappe of stadia.
R
Riool (“sewage”)
Vloeibare afval uit huishoudings of nywerhede wat deur riool- of dreinstelsels weggevoer word.
Riviermondinge (“estuaries”)
Waar rivierlope breër word namate dit die see nader.
Rooidataspesies (“red data species”)
Geklassifiseerde bedreigde spesies wat gevaar loop om uit te sterf.
Rookmis (“smog”)
Stof-, rook- of chemiese dampe wat die lug besoedel en tot dynsige, ongesonde toestande aanleiding gee.
Ruimtelike beplanning (“spatial planning”)
Om die beste ruimtegebruik vir ontwikkeling uit te werk, bv. huise, fabrieke, paaie en sportvelde.
S
Sektorale strategieë (“sectoral strategies”)
Planne, programme en optrede om die behoeftes en besware van verskillende omgewingstemas, bv. luggehalte, afval en biodiversiteit, te dek.
Skaars en bedreigde spesies (“rare and endangered species”)
Spesies wat natuurlik in klein bevolkings voorkom, en dié wat deur menslike aktiwiteit tot klein (dikwels onstabiele) bevolkings uitgedun is.
Sonering (“zoning”)
Die beheer van grondgebruik deur grondontwikkeling tot vasgestelde gebiede of sones te beperk.
Sonkrag (“solar power”)
Krag wat uit die son se energie en lig geput word.
Sonwaterverhitter (“solar water heater”)
‘n Volledige bedryfstelsel wat met behulp van sonenergie warm water lewer, en wat uit een of meer kollektors, warmwatertenks asook alle nodige verbindingspype en funksionele onderdele bestaan.
Sosio-ekonomiese omgewing (“socio-economic environment”)
Die deel van die omgewing wat met menslike aktiwiteite verband hou (bv. maatskaplike, ekonomiese, kulturele en politieke prosesse). Temas wat deel uitmaak van die sosio-ekonomiese omgewing is die ekonomie, gesondheid, onderwys, veiligheid en sekuriteit, en omgewingsbeheer.
Spesies (“species”)
Dier- of plantsoorte.
Spesiediversiteit (“species diversity”)
Die reeks spesies in ‘n gebied of habitat.
Spesierykheid (“species richness”)
Die aantal spesies in ‘n gebied of habitat.
Stad Kaapstad (“City of Cape Town/CCT”)
Die plaaslike owerheid wat (sedert Desember 2000) munisipale dienste aan die mense van Kaapstad lewer. Die ses voormalige munisipaliteite Blaauwberg, Kaapstad, Helderberg, Oostenberg, Suid-Skiereiland en Tygerberg maak nou saam met die voormalige Kaapse Metropolitaanse Raad deel uit van die nuwe Stad Kaapstad (wat ook as “die Unistad” bekend staan).
Stadspreiding (“urban sprawl”)
Die geleidelike en onbeheerde verspreiding van stedelike gebiede na omringende natuurgebiede.
Standhoudend (“perennial”)
Wat regdeur die jaar vol bly, met verwysing na riviere.
>> Sien meerjarig.
Stedelike landbou (“urban agriculture”)
Gewasverbouing in stedelike gebiede en op stedelike rande vir bestaans- of kommersiële doeleindes. Dié aktiwiteit geskied dikwels op ‘n klein skaal, maar baie intens.
Stedelike vorm
Die strukture in ‘n stedelike omgewing.
Stormwaterdreinering (“stormwater drainage”)
Ondergrondse pypstelsel wat reën en ander water uit die grond en van paaie en dakke verwyder, en dit na riviere, mere en die see wegvoer.
Stortplek (“dump”)
‘n Perseel waar verskillende soorte afval op ‘n wanordelike of onverskillige manier weggegooi word sonder om die omgewing en die beskerming daarvan in aanmerking te neem; ook soms ’n “vullishoop” genoem.
Strategiese omgewingsevaluasie/SOE (“strategic environmental assessment/SEA”)
Die administratiewe of reguleringsproses om die omgewingsimpak van ‘n beleid, plan of program én die alternatiewe te evalueer.
Suurreën (“acid rain”)
Besoedelde lug uit fabrieke en kragstasies bevat dikwels swaweldioksied. Wanneer dit met reënwater verbind, kry ‘n mens suurreën. Suurreën beskadig plante en geboue, en kan ook jou gesondheid raak.
Swaarmetaal (“heavy metal”)
‘n Algemene gevaarlike afval wat selfs ‘n lae konsentrasie organismes kan beskadig en daartoe geneig is om in die voedselketting op te bou.
T
Toeloopbestuur (“catchment management”)
Die beheer en beskerming van toeloopgebiede.
Toeloopgebied (“catchment”)
Stuk grond wat reënwater na ‘n rivier of stroom laat vloei, waarna die water na ’n dam, meer of die see gevoer word.
U
Uitheemse spesies (“alien species”)
Plante en diere wat nie natuurlik in ‘n gebied voorkom nie, maar deur mense ingebring word. Uitheemse plante dwing dikwels inheemse spesies uit ‘n gebied. Rooikrans is ’n goeie voorbeeld van ’n uitheemse spesie in die Kaap.
Uitvloeisel (“effluent”)
Vloeistofafval uit riool- en nywerheidsaanlegte.
Unistad (“Unicity”)
Die enkele politieke en administratiewe stadsraad wat sedert die plaaslike-regeringsverkiesing in Desember 2000 sewe afsonderlike plaaslike-regeringstrukture as die “Stad Kaapstad” vervang het.
V
Vaste afval (“solid waste”)
Enige vaste, semi-vaste, vloeibare of gasmateriaal wat uit nywerheids-, kommersiële myn- of landboubedrywighede en gemeenskapsaktiwiteite weggegooi word. Vaste afval sluit vuilgoed, bourommel, kommersiële vullis, slyk uit watertoevoer- en afvalbehandelingsaanlegte of lugbesoedelingsbeheerfasiliteite, asook ander afvalmateriaal in.
Veld
‘n Suid-Afrikaanse term vir natuurlike plantegroei, gewoonlik grasveld, wat kenmerkend uit verspreide struike, bossies of bome bestaan.
Verbruik (“consumption”)
Om iets op te gebruik, byvoorbeeld deur dit te eet of te verbrand.
Vermoëbou (“capacity building”)
Die verbetering van ‘n organisasie of gemeenskap se vermoë om take doeltreffend en met vrymoedigheid uit te voer. Dit kan vaardigheidsopleiding, organisatoriese ontwikkeling en finansiële hulpbronne insluit.
Versouting (“salinisation”)
Toename in die hoeveelhoud sout of opgeloste vaste stowwe in water, of die proses waardeur sout in grond opbou en sodoende ’n skadelike uitwerking op plante het.
Verstedeliking (“urbanisation”)
Migrasie van mense uit landelike na stedelike gebiede. Dit kan tot oorbevolking en werkloosheid in stedelike gebiede aanleiding gee. Verstedeliking is die hoofdryfkrag agter die skepping en ontwikkeling van stede.
Verwoestyning (“desertification”)
Die proses waardeur ‘n gebied of streek deur die verlies van grond en plantegroei al hoe droër (meer aried) word.
Vloedvlaktes (“floodplains”)
Plat areas langs riviere wat weens grondafsettings tydens vloede ontstaan.
Voedingstowwe (“nutrients”)
Mineraalstowwe wat as voedsel deur lewende organismes opgeneem word.
Volhoubaar (“sustainable”)
Wanneer iets beskerm en in stand gehou word sodat dit ook in die toekoms gebruik kan word.
Volhoubaarheid (“sustainability”)
Vermoë om met behulp van verantwoordelike hulpbrongebruik aan die behoeftes van huidige én toekomstige geslagte te voldoen.
Volhoubaarheidsverslag (“sustainability report”)
‘n Vorderingsverslag oor omgewingstoestande en -kwessies wat gebruik word wanneer omgewingsbeleid opgestel en omgewingsuitdagings die hoof gebied word.
Volhoubare landbou (“sustainable agriculture”)
Omgewingsvriendelike boerderymetodes wat gewasverbouing of veeteelt toelaat sonder skade aan die plaas as ‘n ekosisteem, insluitend enige uitwerking op die grond, watervoorraad, biodiversiteit of ander omringende natuurlike hulpbronne.
Volhoubare ontwikkeling (“sustainable development”)
Ontwikkeling wat beplan word om aan die behoeftes van huidige én toekomstige geslagte te voldoen, bv. die behoefte vir basiese omgewings-, maatskaplike en ekonomiese dienste. Volhoubare ontwikkeling sluit die verantwoordelike gebruik en instandhouding van hulpbronne in.
Voorkoms(syfer) (“prevalence”)
Die tempo waarteen iets voortbestaan, plaasvind of versprei, bv. die voorkoms van MIV en vigs.
Vrystellings (“emissions”)
Stof- of vloeistofafskeiding of -uitlating, bv. motoruitlaatgasse.
W
Waterdraer (“aquifer”)
Ondergrondse, waterhoudende rotsformasies – die water kan ontgin en vir was- en kookdoeleindes gebruik word; ook “waterklip” genoem.
Water-ekosisteem (“aquatic ecosystem”)
‘n Ekosisteem wat as habitat vir waterplante en -diere dien en ook watergebonde ekologiese prosesse onderhou.
Watervoorraad (“water supply”)
Water wat gewoonlik in damme opgevang en geberg word voordat dit vir gebruik aan stede en dorpe voorsien word.
Wegdoening (“disposal”)
Die weggooi, afsetting, inpersing, storting, verstrooiing/uitgieting, uitlekking of plasing van enige soliede afval of gevaarlike afval in die omgewing (grond, oppervlakwater, grondwater en die lug).
Wêrelderfenisterrein (“world heritage site”)
’n Natuurterrein wat wêreldwyd as belangrik vir die bewaring van biodiversiteit beskou word, bv. ’n habitat vir plante of diere wat gevaar loop om uit te sterf. Wêrelderfenisterreine skep dikwels werksgeleenthede deur middel van ekotoerisme.
Wêreldwye mededingendheid (“global competitiveness”)
‘n Gebied se vermoë om buitelandse én plaaslike belegging te lok, en goedere en dienste internasionaal te verkoop.
Werkloosheid (“unemployment”)
Wanneer mense nie werk het nie, insluitend ontmoedigde werksoekers wat nie onlangs daadwerklike stappe gedoen het om werk te kry nie.
Teks in eenvoudige taal geskryf deur: Derrick Fine